top of page

Ek het vandat ek kon onthou geweet ek wil ‘n musikant wees en my lewe het toe ook so ontvou. Om musiek te maak, liedjies te skryf, produksies aanmekaar te sit, gedigte te toonset en dit aan te bied vir ‘n gehoor is vir my van die lekkerste dinge op aarde.


My mede-musikante, kunstenaars, akteurs, dansers, fotograwe en almal wat hulle harte gee vir kuns is my uitgebreide familie. Ek is dankbaar vir die talent wat ek ontvang het en my doel is om dit te probeer aanwend ter heling en troos in ‘n ongenaakbare wêreld vol klankbesoedeling.


My musiek sal aanklank vind veral by ‘n gehoor wat lus is om stil te word en te luister. Ek skryf musiek wat stories vertel. My klassieke agtergrond in dwarsfluit en klavier het vir my die fondasie gelê om met die nodige tegniese en teoretiese vaardigheid te werk te gaan wanneer ek komponeer. My lewenspad tot dusver, vol blydskappe, telleurstellings, vernietigende laagtepunte en wonderlike ekstases is die doek waarop ek met klank skilder.
 

Om te sing was ‘n kersie op die koek wat in die middel van my loopbaan gebeur het nadat ek op aandrang van ‘n vriend ingeskryf het vir die ATKV Crescendo kompetisie en dit gewen het. Om 'n emosie deur middel jou stem, sonder die medium van ‘n eksterne instrument weer te gee, is voorwaar ‘n suiwer ervaring en wanneer daardie oomblikke aanbreek tydens ‘n konsert dat die fisiese liggaam en sy ekstensies in die vorm van musiekinstrumente skielik ondergeskik raak aan die klank/ die musiek, dan voel dit soos hemel op aarde.


Dankie dat ek my passie met jou kan deel!

bio

Lizanne Barnard behaal haar graad in B Mus Uitvoerende kuns (klavier en dwarsfluit)onder leiding van Marian Friedman en Prof. John Hinch aan die Universiteit van Pretoria in 1988. Sy raak betrokke by die begeleiding v kabaretsangers en tree op in SA en Europa saam met o.a Helena Hettema, Evan Schoombie en Laurika Rauch. 

 

1993 Algehele wenner van die ATKV CRESCENDO kompetisie met haar liedjie “MODJADJI”. Sy vorm deel vd duo MARIMBA! vanaf 1994 tot 2012. Die duo was baanbrekers in die Woordkuns-genre met hulle toonsettings van die werk van onder andere Eugene Marais, Ingrid Jonker en N.P van Wyk Louw. Hulle stel vier albums vry en ontvang 'n Radio Artes toekenning en twee FNB/SAMA nominasies.


Lizanne was grootendeels verantwoordelik vir die musiek klankbaan van die bekroonde verhoogproduksie “UIT DIE BLOUTE” met regie deur Ilze van Heemert waarin die werk van Eugene Marais vereer was. Die produksie ontvang 'n Herrie toekenning vir die “Mees Innoverende Produksie” by die KKNK in 1996.

Die produksie RAKA saam met Karl Trichardt en Petru Wessels het speelvakke landswyd geniet asook in België en London.


In 2014 begin sy om haarself as solo-kunstenaar te vestig met haar eie produksie-huis by name WORD STIL EN LUISTER. Haar debuut-album "MIS VOOR DIE SON" word vrygestel in Oktober 2015 in die Centurionteater. Die album is as cd van die maand aangewys in die Januarie 2016 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif en het positiewe resensies uitgelok.


Ander produksies sluit in:”POPPEMEESTER” – ‘n huldeblyk aan Ingrid Jonker, “TOTALLY TWINS” in samewerking met haar tweelingsus Anne-Maeie van Eeden en “LANDSKAP” saam met Anna Davel en Laurinda Hofmeyr. “LANDSKAP” ontvang die toekenning vir die beste Woordkuns-produksie by die Woordfees 2017.

‘n Tweede album sien die lig in 2017 met toonsettings van kontemporêre skrywer en kunstenaar, Lidi de Waal. Die album “GEVLERKTES” vervaardig deur Barnard en haar seun Adam Helberg oftewel PYJAMA SHARK, word benoem vir ‘n Ghoema toekenning (Beste album deur ‘n vroulike kunstenaar) in 2019. Die verhoogproduksie BêREBOKSIE VOL VLERKE, geskoei op die musiek van hierdie album en teks deur de Waal, maak groot opslae landwyd met die Suid Afrikaanse ikoon-aktrise, wyle Elize Cawood in die hoofrol.

‘n Herverwerking van UIT DIE BLOUTE met regie deur Henriëtta Gryffenberg en volledige klankbaan deur Barnard word benoem by KKNK 2019 vir Beste musiekgedrewe produksie.


Barnard se werk aan BARRABAS BY DIE KRUIS – ‘n Woordkunsproduksie vir die Pase met teks deur Professore Hans du Plessis en Bernard Odendaal is tydelik onderbreek met die uitbreek van die Corona Virus Pandemie. Hierdie toonsettings vorm die materiaal vir haar derde solo-album wat beplan word vir Julie 2021.

Met die instelling van die grendeltyd in Maart 2020 is Barnard se facebook-inisiatief STUUR VIR MY JOU WOORDE - EK MAAK VIR ONS ‘N LIEDJIE gebore. Hierdie projek is gedryf deur ‘n passie om te bly skep on opvoer te midde van uitdagende omstandighede. Die eerste twee konserte is geweldig positief ontvang. Sy werk tans aan “WOORDE III” in samewerking met Maroela Media en sangeres Anna Davel wat kunswerke skep vir elke toonsetting en visuele regie vir die verhoogproduksie behartig.

bottom of page